Nate
.
Halfpad teen die berg op
ontdek hulle die naat:
’n lyn so dun
dat dit nie gesien kan word nie,
net aangevoel word.
.
Dit is nie ’n reguit lyn nie,
dit kronkel en wentel
soos DNS.
.
Aan hulle kant van die naat
is dit waar hulle is.
Aan die anderkant
is dit waar die wêreld was
toe die eerste woorde
gesê is.
.
Daardie kant is wild,
uiters arm aan rommel
net ‘n paar stukkies
gebreekte been,
’n klipskerfie gekap
uit ’n kernklip,
’n flenter van ’n jakkalsvel
wat deel was
van ’n lendekleed;
nie ’n papiertjie
of plastiekie
êrens te sien nie.
.
Die wêrelde agter die naat
en voor die naat
kan nooit bymekaar kom nie.
.
Vorentoe lê nog ’n naat,
onsigbaar soos die ander een,
maar ons kan dit nie aanvoel nie,
waar is dit,
wanneer is dit?