Is daar genoeg flodder vir almal?
.
Met trotse besitlikheid
kyk die jong woordeboer
na sy trop woorde,
rustig aan die wei
in die lang taalgras.
.
Hy ken elkeen van hulle,
dink hy, elkeen se vermoëns,
swakhede en afkoms.
.
Maar daar is een
wat onbekend lyk:
flodder.
.
Die woordeboer stap nader
en bekyk die woord van alle kante.
Flodder kyk rustig, herkouend terug.
Nou voel die woordeboer onthuts.
hy kan niks van flodder verstaan nie!
.
Iets trek sy aandag
en hy kyk om – nog ’n woord
wat hy nie ken nie:
flets.
.
Die woordeboer probeer die twee onbekende woorde
in ’n kleinkraal jaag,
maar hulle beweeg ongeërg weg
tussen die trop bekende woorde in.
.
Die woordeboer
wonder of hy bleek is,
maar hy voel warm van vernedering.
.
Dan sien hy nog een:
sprokkel.
.
Sprokkel … iets vol kolletjies?
.
Die woordeboer gaan sit
op ’n miershoop.
Hoe het dit gekom
dat hy sy onkunde
so onaangenaam ontdek het?
.
Uiteindelik mompel hy
teësinnig deur sy tande:
Ja, ek sal maar
nog moet leer.
.
Nota:
Woordeboeke is lyste woorde waarvan die betekenisse in ander woorde omskryf word.