q
Hierdie hede vergaan
.
Iets druk
die berge plat,
stoot ’n wind
uit die see, sout
van angs.
.
Op die horison
kan jy sien
die land is besig
om te buig;
rotse kraak
en skeur,
wys hulle bloeiende binnekante.
.
Wolke oor die vlaktes
word uitmekaar geskeur,
fyngekam tot waterige lug.
.
Van bo gesien
is mense klein,
skarrelend in en uit hulle huise,
heen en weer in strate,
te klein
om gesigte te hê.
.
Dan skuif die fokus
en daar sit die kleintjie
in haar stootwaentjie.
.
Onbegrypend kyk sy
na die flikkerende wêreld om haar,
Pythia, orakel van Delphi,
wat net die toekoms sien.