Snelweg, straat, sypaadjie

AB1A1FF2-5699-4747-9AAD-3295ED7C084C-1076-0000003EDC1762D0

Tekening: DWV

Snelweg, straat, sypaadjie

Nou loop ek

op die sypaadjie,

stadig.

Daar was ’n tyd

toe ek glad

oor die rûe

van mense gery het,

gedra deur die kragtige enjin

van my jeug,

.

Gesigte het vervaag

in lang strepe kleur,

opgelos

in die vaart

van my reis.

Plekke het rondgespring

om my, versnel

in skynbaar oneindige

reekse vorentoe flitse.

Woorde, gesprekke

was die gesuis van wind

glyend oor my windskerm.

.

Hier is nou ’n mossie

op die sypaadjie.

Hy gee nie meer pad vir my nie.

Langs die sypaadjie

staan die huise stil.

Kulle knik: Goeiemiddag.

Ek waai terug:

Dit is goed

dat julle nou

tot stilstand gekom het.