
Die legende van Argnas en Otheima*
.
Terwyl sy speel,
seil die adder nader
tot teen haar voet.
Sy dun tong flits in en uit,
te vinnig vir woorde,
vinnig soos ’n oogknip.
.
Haar vingers raak stadiger
oor die snare van die lier
haar liggaam verander
in ’n wit marmerbeeld,
net haar vingers beweeg.
.
Waarom wil jy lewe?
sis die slang.
Sy kan nie antwoord nie,
haar tong is koue marmer.
.
Het jy meer reg
as die ander diere
en die plante van die veld?
vra die slang.
.
Die lier se note verstil.
Dan beweeg haar vingers weer,
sy speel vyf snare gelyktydig -’n akkoord,
’n nuwe klank
uit vyf ander.
.
Die adder kronkel
soos ’n huiwering,
vloei terug tussen die rooi blommende ibiskos**.
.
Haar liggaam
word sag, vlees en bloed,
warm en geurend
soos heuning in die son.
.
Sy speel met twee hande:
’n nuwe lied
wat nog wag vir woorde.
…
*Otheima: klassieke Grieks vir “lied” of “sang”
Argnas: klassieke Grieks vir slang of adder.
**Ibiskos. Die naam wat die Griekse plantkundige, Pedanius Dioscorides (40-90 AD) gegee het aan een van die spesies in die genus Hibiscus. Dit val in die familie Malvaceae en is ook soms die “Roos van Sjaron” genoem.
– DWV