
Woorde besig om te wortel
.
Hoor hoe loop
die waterwoorde.
vloeiend, loom,
die helder glanspunt messe
van die wortelende, wordende woorde,
klots die waterwoorde
oor die gladgestreelde rots,
trotse woorde vol
blye boodskappe, besige
heuningbye ingeduik
in geel meel, gestuif
in heerlike geure,
waterwoorde wat stroom
deur slaap en spoel in jou droom.
Waar hierdie woorde heengaan,
waarom hierdie woorde staan,
sal jy moet ophou dink
om hulle te verstaan.