
In die jaar twee duisend
Jude Stéfan
.
in die jaar twee duisend kom die Grieke
in 1930 word Ur vernietig
in die Middeleeue verskyn die alfabet
wat eendag vir Pessoa bemagtig
in die agste eeu vaar
die galei uit oor die oseane
in 42 kilometer strek Marathon oor die tydperke
veldslae word bloedbaddens
vermink uiteindelik die Hermesse
324, skouspelagtige huwelik in Susa, dan
verduur Hannibal die hitte & die koue
slaap op die grond
o die vleie en skape
uiteindeik Spartacus!
ons liewe heldin Agrippina Messalina
in 41 ontmoet die skone Minnaars
elders:
Geel-turban of Rooi-wenkbroue –
so is my droom tot in die laaste besonderheid
ek die digter in Waansin
uitvinder van ont-lirisisme
voor die Kruis van skande
.
Uit Frans vertaal deur De Waal Venter
Aantekening
Dit is die enigste gedig wat ek nog teëgekom het wat direk verwys na die digter Fernando Pessoa. Dit is duidelik dat Stéfan groot agting het vir die Portugese digter.
Ek haal Van Wyk Louw se gedig aan weens die verwysing na skrywers en digters se verhouding tot waansin. Louw haal ‘n sin aan Dostojewski se “Aantekeninge uit die onderwêreld.” Hy sluit daarmee aan by Dostojewski se argument teen determinisme. DWV
.
en l’an deux mille
Jude Stéan
.
en l’an deux mille survinrent les Hellènes.
en 1930 Our fut détruite.
à l’âge moyen apparut l’alphabet qui
permettra une fois Pessoa.
au huitième siècle la trière,
partir sur les mers.
en 42 kilomètres Marathon traversa les ères.
batailles sur massacres –
enfin mutilés les Hermès.
324, grandioses noces à Suse puis Hannibal
endure le chaud & le froid
couche sur la dure
ô landes et moutons
enfin Spartacus !
nos chères héroïnes Agrippine Messaline
en 41 se rencontrent les beaux Amants
ailleurs :
Turbans-Jaunes ou Sourcils-Rouges –
tel fut mon songe au dernier article
moi poète Tout-Fou
inventeur du dé-lyre
avant la Croix d’ignominie
……..
In waansin het ek gevra
.
N.P. van Wyk Louw
(Uit die bundel: Alleenspraak, 1935)
.
Herr du mein Gott, was gehen mich die
Gesetze der Natur und Arithmetik an?
.
In waansin het ‘k gevra, o God
vir my die vrede van die ster,
om bo die berge stil te woon,
die wêreld onder dof en ver.
Ek wou U Liggaam sien en gryp,
ek wou die see vang in my net;
ek wou U Mag vang, vang en bind
met die koperkettings van my wet.
Dan wou ek self in glorie troon,
my hof by winde en sterre hou;
ek wou met ewig-stille oë
op U en op U knegskap skou.
Vergeef die wilde dwase bee —
o God, hoe kon ek wyser wees?
Maar, moet U vlam my voorkop kroon,
ek neem die glorie en die vrees!
Vir my nie meer die dwase rus
van mense en van dag en jaar,
vir my die vlamme van U wa,
en oë wat in vertes staar.
Vir my die kruis en doringkroon,
die reise wat geen einde het,
vir my die soek wat nimmer vind,
vir my die sterre sonder wet.
o God, vir my die wilde sin,
die oë wat hul waansin noem,
om wat ondenkbaar is, te dink,
en wat onmoontlik is, begin.
Ek sal ons Wete stukkend skeur
en uitstrooi tussen sterre en maan!
Sal ek met so ’n flenterkleed
U weë, o God, U weë gaan?
So sal ‘k met naakte liggaam stap
die reis van hierdie wonderlewe,
met wonderoë in die lig
wat om my van U wonder bewe.
Daar is één heerlikheid: U sien;
daar is één rus: om U te soek;
om niet te weet – dit is U seën;
en om te vind – dit is U vloek.