
Vinkel en koljander
.
Alles is groen
buite my venster.
Haantjies van porselein in die vensterbank
hou alles gemoedelik dop.
.
Varings hou hulle fyn arms
triomfantelik in die lug,
die kanferboom se blare
is applouserende konsertgangers;
byna onbeheerbaar geesdriftig
die buddleja se sagte groen
wat voldaan staan
en kyk hoe die sonlig
allegro’s uitvoer van blaar tot blaar;
.
dan die die olifant
wat statig aanstap deur alles
sonder om die geringste skade
aan te rig.
Sy slurp krul en swaai
met beheerste brute krag,
sy ivoor kerf wit uit die sonlig.
,
Die olifant het homself uitgedink
en laat homself loop in die tuin
in ’n effens newe-dimensie
sodat hy niks hoef plat te trap nie.
.
A, hier kom hy,
bied my ’n piesang aan.
Hierdie piesang, bestaande uit verbeelde atome
gaan ek met groot smaak geniet.
.
Die een werklikheid
is nes die ander.
Vinkel en koljander.