Wyk Louw se vaas

celebrate_frida_kahlo-1

Frida Kahlo

Gesprek met Yanni

Wyk Louw se vaas

.

Yanni stap in

en kyk vir haarself in die spieël.

Sy lek haar wysvinger se punt

en begin haar een wenkbrou gladstryk.

.

Ek maak keelskoon en vra:

Wat moet ek skryf?

Sy antwoord nie dadelik nie,

maar vra na ’n rukkie:

Lyk ek soos Frida Kahlo?

Ek gee so ’n halwe laggie:

Nee, jou wenkbroue loop nie inmekaar nie.

Hare ook nie, net in haar skilderye,

antwoord Yanni en gaan dadelik voort –

Skryf:

Wyk Louw wou die vaas

ongeskonde deur die skare dra.

.

Die sagte kurwe

van die porseleinvaas

is die lig deinende buik

van ’n jongvrou.

Haar bene groei uit

soos berke in die lente,

haar bolyf buig,

swenk en balanseer

akrobaties op haar bekken.

.

Heel bo die dom

van haar kop

met haar oë wat deur eeue sien,

haar lippe wat woorde liefkosend vrylaat

soos swaels uit haar hande.

.

Die vaas se wonderlike kurwes bekoor

met haar pragtige glans en haar fyn patrone.

Binne-in is die vloeistof

wat ruik na brand, na wilde woede,

na wegsakkende dood, na brood.

.

Yanni draai om en begin wegstap

deur die muur,.

Is dit al? roep ek agter haar aan.

Vaagweg kom haar stem:

Moenie te diep kyk as jy gemoedsrus soek nie .

Elke mens …

 Die res kan ek nie hoor nie.

Bundel: Die halwe kring

NP van Wyk Louw

Gedagtes, liedere en gebede van ’n soldaat

1935-1937

VIII Ons moet die bitter taak

“… Ons ken die swye,

ons hou net enkele woorde tot ’n wet

wat onverbiddelik is, deursigtig, klaar;

en trou alleen aan die hoogste wat ons ken,

meer as aan vriend of broer, dat ons die Edele

en Kosbare veilig deur die skare dra.

Januarie 1937

 

About kruger01

Poet, author, translator Grandfather of five. Bonsai grower.
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s